Skip to main content

Begin by die begin (Matt 1)

Ek het besluit om vir die volgende paar weke deur die Evangelie van Matteus te lees en daaroor te blog. Ek is seker die geslagsregister in hoofstuk 1 is die rede dat mense wat die nuwe testament vir die eerste keer lees ‘n bietjie skrik vir die Bybel, en eintlik is daar nie veronderstel om ‘n rede te wees nie. Hierdie hoofstuk maak dit net baie duidelik dat wie Jesus is deel is van ‘n duisende jare lange ontwikkeling. If anything, maak dit duidelik dat Jesus ‘n werklike historiese figuur is - iets wat selfs ongelowige historici lankal al aanvaar.

Maar wat leer die geslagsregister my? Een - dat dit nie noodwendig die beste voorsate is nie. Rut was immers ‘n Moabiet, ‘n volk wat afstootlik was in die oë van die Jode. Dan is daar Salomo wat gebore is by die vrou van Urija - die man wat Dawid laat vermoor het… So net dit - God laat sy Seun gebore word uit ‘n swak geslagsregister. ‘n Bewys dat Hy sou kom om te ly eerder as om te heers. Verder moet dit ons verstom om te dink dat Jesus uit die heerlikheid van die Vader weg is om in so geslagsregister gebore te word… Iets groter het Hom gedryf om dit te doen en Heb 12:2 sê vir ons wat dit was: “Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God.”

Die ander ding wat my opval is die feit dat Matteus nie Jesus se hele geslagsregister gee nie. Hy laat opsetlik ‘n klomp geslagte uit. Vergelyk bietjie 1 Kron 3:9 ev en jy sal self sien. Hoekom doen Matteus dit? Wat beklemtoon hy? Die een mening is dat hy baie duidelik wou aantoon dat Jesus die Seun van Dawid is. In Hebreeus sou die getal wat die woord DWD verteenwoordig 14 wees, iets wat MAtteus in vers 17 beklemtoon. Hoe dit ookal is - dit maak duidelik dat Jesus ‘n fisiese afstammeling van Dawid is - die een wat die volk gelei het in die tyd toe hulle op hulle hoogtepunt was. Na die ballingskap is die hoop sekerlik dat Jesus dieselfde en meer vir die volk sal doen. En ek dink daar is presies die punt wat Matteus maak - hierdie Jesus is die ware Messias. Hy is die een wat nie soos Dawid moord gaan pleeg nie, maar vermoor gaan word sodat ons waarlik vry kan wees van die ballingskap van ons sonde.

In vers 18 tot 25 gaan die geslagsregister eintlik net stilweg aan. Die ware pa van Jesus is nie Josef, soos die geslagsregister vooraf gesê het nie maar die Heilige Gees. En die bewys hiervan is dat Josef, die man waaraan Maria verloof is nie met haar geslaap het nie. Ook glo hy nie die dat iemand anders dit gedoen het nie anders sou hy nie die verlowing stilweg probeer verbreek het nie. Hy sou dood-eenvoudig gesê het dat sy met iemand ander seks gehad het, haar gelos het en sy sou heelmoontlik deur die gemeenskap gestenig geword het.

Maar hoe het Josef dan gedink het sy swanger geword as hy nie gedink het dit was deur owerspel nie? Terwyl hy oor die dinge gewonder het het ‘n engel aan hom verskyn en hom vertel wat gebeur het… en hy glo dit! Kan jy jouself indink? Hy glo dit nie net ‘n bietjie nie - hy noem die kind ook Jesus wat beteken dat hy die volk van hulle sondes gaan verlos. (Ek weet alles van name gee vir kinders en ek kan jou belowe - jy wil nie die kleinste verwagtings op jou kinders sit deur die soort naam wat jy vir hulle gee nie.) Tog noem Josef hom Jesus en neem God op sy woord dat hierdie kind wel die wêreld van hulle sondes gaan verlos!

En om nie enige rede vir twyfel oor te laat nie sê die engel wie die kind werklik is: Immanuel - God by ons. Dit is wie hierdie seuntjie is. Hy is God wat mens geword het. Ek moet sê - ek sukkel nogal om al die cliches oor Immanuel uit my kop uit te kry: bv die romantiese prentjie van die kindjie in die krip met die wyse manne en ‘n blink sterretjie bo hulle koppe. Dit is nie veronderstel om mooi en romanties te lyk nie. Dit is omtrent so gritty en vuil soos wat die kom. Die wêreld sal mal gaan as Queen Elizabeth se kinders as boemelaars onder London Bridge slaap, en hier is die Seun van God wat in ‘n voerbak gebore word.

En dit is dit: daar is nie ‘n deel van ons lewens wat Hy nie op aanspraak kom maak nie, want Hy het tenvolle kom deel word van ons lewens. Ek kan nie dink iets is te vuil om nie vir Hom te wys nie. Hy het Homself die nageslag van hoere en moordenaars gemaak om met my in al my sonde te kan identifiseer. Hy het Homself tot ‘n baba in ‘n dier se kosbak verneder om die vreugde te hê om my eendag te verhoog tot ‘n plek saam met Hom by die Vader. Ek wens ek kan dit werklik verstaan. Ek wens ek kan verstaan hoe groot die opoffering was wat Hy vir my gemaak het… ek weet dit sal in my hart ‘n vloedgolf van verwondering laat ontstaan wat niks kan keer nie. Nie skuldgevoel nie maar ‘amazement’. Ek sal verstom en verwonderd staan en instaat wees daartoe om Hom werklik te eer met alles in my lewe. Mag God dit tog vir ons so gou as moontlik wys.

Comments