Ek het toe besluit om Sondag oor verlede week se oordenking in Matteus 3 te preek, en ek het dit baie geniet om bietjie harder te gaan werk met die teks. Daar is veral een ding wat baie duidelik geword het toe ek Matteus 3 beter probeer verstaan het: Jesus se doop, die Heilige Gees wat soos ‘n duif op Hom kom en God se woorde uit die hemel dat Hy Hom oor sy Seun verheug was al drie tekens wat vir ons moes wys dat Hy ‘n nuwe begin kom maak het.
Dink bietjie daaroor. Watter gebeurtenis wat in die verlede plaasgevind het, het water, ‘n duif en God se vreugde in gemeen? Dis dit - die sondvloed met Noag se ark en die duif wat nie terug gekom het toe hy ‘n plek gekry het om te sit (die teken dat die grond droog was en dat hulle kon uitgaan). Net soos die sondvloed ‘n nuwe begin was, so was Jesus se koms ‘n nuwe begin. ‘n Nuwe Koninkryk maar met hierdie groot verskil - die probleem van ons harte wat net die slegte wil doen word aangespreek. Jesus kom, en sy nuwe koninkryk word gekenmerk deur totale sondeloosheid (vergelyk dit maar met Noag, wat kort na die sondvloed dronk geraak het en op ander manier droogemaak het…)
Matteus 4 draai die geskiedenis nog ‘n bietjie verder terug. Hierdie keer verby die sondvloed, tot by die skepping. Lees gou self die gedeelte as jy kans kry en kyk of jy die links kan maak.
Onthou hoe Adam en Eva in die tuin van Eden deur die duiwel versoek is? Wel, hier is die nuwe Adam en Hy word deur die duiwel versoek, nie terwyl Hy in ‘n tuin is nie maar terwyl Hy in die woestyn is! En die duiwel se taktiek het ook nie baie verander nie - hy probeer weer twyfel saai. Aanvanklik is hierdie twyfel net gefokus op Jesus se identiteit (hy moet twee goed doen om te bewys dat Hy werklik die Seun van God is) maar dan raak die duiwel desperaat en openbaar in ‘n oogwink wat hy soek en hoe hy beplan om dit te kry. Hy belowe al die koninkryke van die wêreld aan Jesus as Hy net neerval en hom aanbid. Skielik is daar nie meer twyfel oor of Jesus die Seun van God is nie, al het hy niks van die goed gedoen wat die duiwel voorheen gevra het nie. Die duiwel weet goed wie Hy is en daarom wil hy ten alle koste sien hoe die Seun van God hom aanbid…
Vir my was niks van dit ‘n verassing nie, maar wel die volgende. Die duiwel beskou dit is as die ultimate versoeking om die koninkryke, die groot stede van die wêreld vir Jesus aan te bied. Hy weet, dit is wat Jesus soek. Dit is presies waarvoor Jesus gekom het. Om die wêreld in te lyf in sy koninkryk wat reeds oor die hele heelal span. Maar die duiwel is, soos ons gesien het met die sondeval ‘n uitstekende verkoopsman. Hy wys net die prag van die koninkryke, nie die sonde en siekte, die geweld, harsteer en pyn wat in die wêreld is nie… en dit is presies hoekom Jesus gekom het.
Die nuwe begin wat Jesus bring is werklik. Hy kom om te deal met die sonde, Hy kom om die wêreld syne te maak, nie omdat dit so mooi is nie, maar omdat Hy so mooi is. Hy kom om Homself te kom ontferm oor die wêreld wat die nie verdien nie. En as jy ‘n sterker bewys daarvoor soek, kyk watter woorde aangehaal word oor Jesus se koms in vers 16: “Die volk wat in duisternis woon het ‘n groot lig gesien; hulle wat in die skemerland van die dood lewe, vir hulle het die lig opgegaan.” Jesus word nie omgepraat deur die wêreld op te dress soos ‘n second hand carsaleman ‘n stel mags en jukebox in ‘n vrot ou Nissan bakkie druk nie. Jesus weet ons is vrot, maar Hy kom Homself oor ons te kom ontferm - Hy kom om lig in die donker te bring.
In vers 17 hou die onduidelikheid net dadelik op wanneer Jesus sy bediening begin en Hy sê: “Bekeer julle want die konikryk van die hemel het naby gekom.” ‘n Nuwe begin, ‘n nuwe skeppingsverhaal. Hier is die tweede Adam en Hy het nie ingegee vir die versoekings van die duiwel nie. Hy het vasgehou en suiwer gebly, nou begin Hy om hierdie hemelse koninkryk te laat groei. Mense word deel daarvan as hulle hulle bekeer - erken dat hulle in die donker leef, nie instaat is daartoe om lig te maak nie en hulle tot Hom draai en smeek om deel te word van sy koninkryk. Om deel te word van syne moet ons erken dat ons koninkryk nie gaan werk nie en nooit gaan werk nie - iemand van buite af, iemand met ‘n suiwer hart moet ons red. En dit is presies waarvoor Jesus gekom het.
Hoe meer ek dink oor hierdie taktiek van duiwel om die wêreld aan te bied inruil vir aanbidding deur Jesus hoe meer besef ek waarvoor Jesus gekom het. Ons weet nou klaar dat Hy gekom het om die wêreld syne te maak, maar nie omdat die wêreld mooi is nie maar ten spyte van die wêreld se lelik. Maar dink bietjie verder. Jesus het werklik vir hierdie wêreld gekom. Sy verlossing is vir hierdie wêreld, in die nuutmaak van hierdie skepping rondom ons. Kyk wat doen Hy in vers 24. Hy begin om die mense met siektes, kwale en pyne, die wat in die mag van bose geeste was en die wat geestelik versteurd was te genees! Sy passie is vir die nuutmaak van hierdie skepping, Hy wil ons hê maar Hy wil ons nuutmaak en dit presies wat Hy kom doen het.
Ons moet dit nie miskyk nie, want ons kan maklik. Hierdie Jesus lyk vir die wêreld, en sal aanhou om vir die wêreld swak en simpel en eenvoudig te lyk. Dit is hoe Hy sy koninkryk kom begin het - deur soos ‘n swakke vir die swakkes te kom. Hy het in Galilea gebly, sy dissipels hoofsaaklik uit die werkersklas gekies en met sondaars en sukkelaars gemeng. Ons moet nie vir een oomblik dink dat ons te goed is om dieselfde te doen nie. Jesus het die social fabric van die wêreld kom herweef, en ons moet bereid wees om sy voorbeeld te volg. Dit is die begin van hierdie nuwe koninkryk, waar gelowiges in geloof dat hierdie skepping waardevol is en nuutgemaak gaan word hulleself vreesloos weggee om hierdie nuwe koninkryk te bou. Wat ek daarmee bedoel is, ons moet ons bekeer van ons selfsugtige self reddingsplanne en glo dat wat Jesus gedoen het genoeg is, dat ons reeds verlos is deur Hom en nou begin werk om hierdie nuwe koninkryk te laat kom waar meer mense tot geloof kom.
Aargghh.. Dit voel of ek dit nie duidelik kan sê nie. As iemand ander meer tyd het, probeer ‘n mooi gevolgtrekking/toepassing van dit alles maak. Ek moet waai.
Comments