Skip to main content

God is in beheer... van die fynste tot die grofste besonderhede (Matt 2)

So vanoggend lees ek Matteus 2 en ‘n paar vrae het my onmiddelik geslaan. God laat ‘n ster rondbeweeg om vir die wyse manne te wys waar Jesus is, Hy verskyn in drome aan Josef en aan die wyse manne maar Hy stop nie die kindermoorde wat Herodes gepleeg het nie…

En eerder dat hierdie hele gedagte my moet laat wegsink in afkeur teenoor God hou dit die meeste rede ooit in om Hom juis te eer. Hy was deur dit alles besig, om ten spyte van ons sondige natuur (Herodes se magsbeheptheid is nie veel anders as ons eie nie) elke woord van die profete te vervul, tot in die fynste besonderhede. God is self besig om sy Verlosser elke profesie wat oor Hom gemaak is te laat vervul sodat daar geen twyfel kan bestaan dit dit wel Hy is nie, en dat Hy van God af kom (en nie van ons af nie).

Hier is hoekom ek so sê: elke deel van die storie eindig met ‘n profesie wat vervul word deur die voorafgaande. In vers 13, nadat die wyse manne Jesus kom vereer het verskyn ‘n engel van die Here aan Josef en sê dat hulle Egipte toe moet trek om daar veilig te wees van Herodes se kindermoorde. In vers 20 verskyn die engel weer aan Josef om vir hom te sê om terug te keer na Israel toe - ‘n vervulling van Hosea 11:1. En dan weer in vers 23 hoor ons van die profesie dat Hy ‘n Nasarener genoem sal word. Maar God laat alles gebeur sodat Hy dit genoem word: God verskyn in ‘n droom aan Josef om hom na daardie streek toe te wys nadat hy bang geword het vir Herodes se seun.

En wat ek meer en meer besef is dat hierdie vervullings noodsaaklik is vir my en jou geloof. Sonder die besondere vervulling van elkeen van die profesieë wat oor honderde jare voor Jesus se geboorte gegee is nie sou ek nie met redelikheid in Jesus as die Verlosser kon glo nie!

Ek wag nog vir die dag dat ek met iemand praat or hierdie gedeelte en hy my daarop wys dat daar nie so ‘n profesie is wat sê dat Jesus ‘n Nasarener genoem sal word nie. Doodeenvoudig net omdat hy reg sal wees… daar is nie so profesie nie… of in elk geval net letterlik presies net so nie. Jy sien, ons geloof is baie nou saam geweef met wat ons van God weet uit die Bybel. En as ons iets kry wat nie lekker ooreenstem nie, dan wankel ons - soms kwaaier as ander kere. En dit is presies die rede hoekom God soveel moeite doen om elke profesie te vervul, sodat jy nie hoef te wankel nie, maar kan weet dat Jesus is wie Hy gesê het Hy is.

So wat gaan aan met vers 23? Dit as ‘n opsomming van ‘n veel groter profesie - Jesaja 53. Daar word Jesus beskryf as iemand wat afstootlik en verwerplik is. En dit is presies wat ‘n Nasarener was. In Joh 1:46 sê Nataniël dit: “Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?”

Hierdie klein details, soos waar Jesus gebore is, waar Hy gaan woon het en wie sy ouers was is goed wat Hy as mens nie kon kies nie. Hy kon dus nie ‘n ’self-made’ profeet gewees het nie. Nog voordat Hy as mens kon kies wie Hy was , was Hy al die onskuldige wat sou sterf vir die onregeverdiges - ek en jy.

En in my dink oor hierdie gedeelte kan ek nie anders as om stil te staan by Herodes nie. Ek en jy is nie veel beter as hy nie. Dink maar aan die strategieë wat jy al gebruik het om aan eer of erkenning of status of aanvaarding vas te hou. Is dit nie ook van jou waar dat jy al gejok het om jou eie bas te red nie? Het jy nie al iets slegs oor iemand anders gesê om hulle juis af te bring sodat jy beter kan lyk nie? Waar sal jy stop om iemand wat jou plek van eer wil vat te stop? Ek dink meeste van ons sal darem nie sover gaan as kindermoord nie, maar is waar jy sal stop soveel beter as kindermoord? Kan jy jouself regtig beter ag as Herodes? Ek moet erken, ek kan nie. Ek het ‘n volmaakte Verlosser nodig - een wat presies pas by die profesieë van die Ou Testament.

Gaan lees gerus Luk 24 en sien hoe kosbaar hierdie vervullings van Jesus is. Die Emmaus gangers kom juis tot geloof as Jesus vir hulle gewys het hoe Hy deur die hele Ou Testament voorspel is (vers 26,27). Nadat hulle hierdie info het maak Jesus hulle oë oop om te sien wie Hy is… en toe kom hulle tot geloof. Ek dank God vir sy beheer oor hierdie details.

Comments