Eers 'n verskoning... vandat ek laas week in Edinburgh was kon ek net nie weer terug kom in die ritme om elke dag te blog nie. Dinge is lank nog nie terug na normaal toe nie, maar ek gaan nou net deur druk en dit weer begin doen.
Ek het sopas deur die hele hoofstuk 11 gelees en daar is weereens baie wat ek kan sê oor die detail. Maar ek verkies dit om die detail in die lig van die groter prentjie te sien - daarom dan die tema van hoofstuk 11 eerste. Dit gaan oor hierdie vraag: Hoe word ek deel van hierdie nuwe koninkryk? Wat moet ek sien om die koninkryk te sien en daarvan deel te word? Dit is die wese van die vraag wat Johannes vra, die rede hoekom Jesus kwaad is vir die dorpies waar Hy opgetree het en hulle Hom nie aanvaar het nie, en die slot van die hoofstuk - 'n verduideliking van Jesus oor hoe dit werk.
Johannes vra: "Is U die Een wat sou kom of moet ons 'n ander een verwag?" Dit is waar hy begin. En dit is redelik logies - 'n nuwe koninkryk kom tog nadat 'n nuwe koning eers gekom het. "Is U die beloofde nuwe Koning?" is eintlik wat Johannes vra. En kyk dan na Jesus se antwoord. Hy sê hulle moet vir Hom vertel wat hulle sien - dat blindes genees word, lammes loop, melaatses word gereinig en dooies word opgewek. Dit is netso geprofeteer in Jes 35:5,6.
Dit laat my nou dink aan iets wat ek nou die aand gesien het. David, my kollega in die Free Church of Scotland sit wraggies 11uur die aand die finale episode van Lord of the Rings aan - The Retrun of the King. Dit was die directors cut wat 5ure lank is! (Ek kon net 2 ure hou...) Op 'n stadium, wanneer Theoden, Eowyn, Merry en ander seergekry het roep Gandalf vir Aragorn om hulle te kom help. En dan gebeur wat almal gehoop het - Aragorn help dat hulle gesond word en bewys dat Aragorn hulle koning is - want daar was 'n profesie wat gesê het dat "the hands of the kings will be healing hands."
Natuurlik is dit net fantasie, maar in Jesus se geval was dit nie fantasie nie. Die genesings wat Jesus gedoen het was veronderstel om leidrade te wees oor wie Hy is. Die nuwe Koning van die Hemelse Koninkryk.
Maar hoe word mense deel van hierdie koninkryk? Ons sien dat Jesus een ding voortdurend doen en dit is om van dorp tot dorp te loop en vir die mense te leer wie Hy is. Hy bied hulle die geleentheid om Hom te herken as die Koning. Johannes herken Jesus opgrond van die getuienis (die mense wat genees word) maar ander mense herken Hom nie. Daar was hele dorpe wat die getuienis geïgnoreer het - Gorasin, Betsaida en Kapernaum, al drie sê Jesus aal tot die doderyk afdaal as gevolg van hulle reaksie op Hom. Hulle sal dus nie deel wees van die koninkryk wat kom nie. Hulle het Jesus se dade gesien, sy getuienis gehoor en tog nie geluister en daarop gereaggeer nie.
Maar watter soort reaksie moes hulle gehad het? Hulle moes hulle bekeer het. (v 21). Dit is die eenvoudige reaksie wat Jesus verwag het. Hulle moes hulle bekeer het van hulle false strategieë om verlos te word en Hom vertrou het. Hulle het al die getuienis gehad - nie net dit nie - hulle het die direkte uitnodiging van die nuwe Koning gehad om deel te word van sy ewige ryk van genesing en herstel. Kyk net na Jesus se woorde in vers 28:
"Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal vir julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoes, My juk is sag en my las is lig."
Dit is die woorde wat Jesus vir die dorpe en mense het wat Hom nie wil vertrou nie. Ek onthou hoe Jesus aan die einde van hoofstuk 9 geweldige hartseer gehad het vir die volk wat deur leiers gelei was wat hulle moeg en hulpeloos gelaat het. Dit was die sieldodende werk om deur dade hulleself te probeer verlos. Jesus sê: "Kom na my toe! Kom lê julle sondes voor my neer en ek sal dit op myself neem as my las, en vir julle die ligte las van my sondeloosheid gee! Kom ons ruil - julle sondes vir my verlossing!" En tog is daar die wat hulle rug op hierdie uitnodiging draai.
Dit is amper ondenkbaar dat iemand so deal van die hand kon wys, maar sommiges het soos baie mense dit vandag ook doen. In vers 25-27 verduidelik Jesus dit vir ons. Dit is 'n skokkende realiteit, maar dit is soos Jesus dit leer: Vir sommige mense wys God wie Jesus is, en vir ander wys Hy dit nie (letterlik: steek Hy dit weg). En alhoewel dit vir ons onregverdig klink noem Jesus dit die Vader se genadige bedoeling! Hy sê self in vers 17 dat net die gered is aan wie die Seun Homself wou bekend maak. Sy genade lê daarin, dat die mense wat dit die minste verdien (en dit weet) juis die ontvangers is van die grootste genade.
En miskien is dit waar die uitdaging van hierdie boodskap lê: As ek die getuienis van wie Jesus is gesien het en vandag glo dat Hy is wie Hy gesê het Hy is - beskou ek myself as die redder van my siel of is Hy die Redder van my siel? Het ek myself gered deur in Jesus te glo... of het God my gered van myself?
Ons het Dinsdag aand by die kerk die fliek Amazing Grace gekyk. En nadat William Wilberforce (die persoon wat die slawehandel wêreldwyd teëgestaan het) tot bekering gekom het vra sy butler vir hom: "Have you found God sir?" Waarop William antwoord: "I think God has found me..." En dit is presies waarvoor Jesus gekom het.
Dit is veronderstel om ons knieë te knap en ons harte te smelt. Ons verlossing is totaal en al deur Hom bewerk. God het my kom kry.
Comments