Skip to main content

Kom ons kyk

Ek is maar redelik versigtig vir vet voornemens met elke nuwe jaar, dalk is dit die rede dat ek tot op die nippertjie gewag het om hierdie net te doen. Wat ek graag wil doen is om ‘n plek te hê waar ek my stiltetyd kan bedink, bepraat, bestoei en bewaar. So, jy is welkom om te kom bespiegel maar met hierdie een proviso - ek gaan die minimum tyd aan hierdie ding spandeer.

Moenie lang redekabels verwag nie, en moet nie dink ek gaan in moeilike gesprekke betrokke raak nie. Hierdie is ‘n plek vir plain, straight-forward reaksie op wat ookal ek in my stiltetyd gehoor het. Ek wil elke dag daarby probeer stil staan, en behoorlik daarna luister - anders gaan dit net by my verby.Dit is presies wat ek die afgelope week in Suid-Afrika beleef het.

Ek het die paaidjie na die plaas toe al soveel keer saam met my skoonpa gery en net altyd die bome as ‘n dowwe groen streep langs die motor verby sien smeer. Maar dit het alles verander toe ek die bome begin raaksien het. In die voorkant van ‘n voëlboek wat my swaar vir my gegee het skryf die oom dat hy die lewe in elkeen van die bome ontdek en leer ken het. En dit is presies wat met my begin gebeur het toe ek die verskeidenheid begin raaksien. In elkeen het ek iets van God leer ken - net bloot deur die massa verskeidenheid te sien. Hoe onbegryplik kreatief. So wil ek elke bladsy in die Bybel weer begin sien. As plekke waar God vir my weer kom sê wie Hy is en hoe Hy is. Ek wil nie net die Bybel langs my laat verbygaan as ‘n dowwe swart streep nie wat ek dink ek verstaan, sonder dat ek die grootheid van Hom wat die gesê het begin begryp nie.

So - kom ons sien waarheen hierdie storie gaan. Ek weet een ding en dit is dat ons Hom eendag gaan sien, en dat daar in die Vader se oë niks anders as aanvaarding, erkenning en liefde gaan wees vir my nie. Die verstommende is natuurlik dat ek dit nie verdien nie - maar dat Hy my liefhet op grond van Jesus Christus se offer aan die kruis. En dit is presies wat ek wil begin sien - presies hoe groot en wyd en diep sy liefde vir my is. Ek wil dit sien, begryp, verstaan en vir my siel gooi as kos wanneer ek honger word. Dit is wat ek wil sien. Nou toe - kom ons kyk.Kruger

Comments