Skip to main content

'n Honger mens kan eet (Matt 3)

In Matteus 1 en 2 het dit hoofsaaklik gegaan oor Jesus se ‘credentials’, die bewyse dat Hy die beloofde Messias van die Vader is. In Hoofstuk 3 is daar ‘n oorvleuling tussen hierdie tema en ‘n nuwe tema - die begin van Jesus se bediening (of die koms van die koninkryk).

Wat my opval van die ‘credentials’ wat Matteus noem is dat hy nou baie duideliker is as in die vorige hoofstukke oor Jesus se identiteit (Markus begin sy evangelie sommer deur in die eerste vers te sê wie Jesus is). Met Johannes se aanhaling uit Jes 40:3 sê hy immers dat hy die pad reguit maak vir die Here. Dit is ‘n redelike skokkende aanspraak. Dan hoor ons dat hierdie een wat na Johannes kom met die Heilige Gees en vuur gaan doop. Ook hoor ons dat Johannes aanvanklik weier om Jesus te doop, wat beteken hy erken dat Jesus nie die doop van bekering nodig het nie: Hy het geen sonde in Hom nie. Uiteindelik doop hy vir Jesus en dan kom die grootste aanspraak en mees duidelikste beskrywing van wie Jesus is: “Daar was ‘n stem uit die hemel wat gesê het: ‘Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug ek My.’” Matt 3:17.

Sonder twyfel is dit nou duidelik wie Jesus is, maar wat moet dit vir my beteken as ek hierdie gedeelte lees? Watter impak moet die op my hê? Vir my is die eerste vraag of ek deel sou wees van die groep mense wat uitgegaan het om gedoop te word deur Johannes. (Op die punt is dit belangrik om te verstaan dat die doop van Johannes nie dieselfde is as dit wat ons vandag in die kerk doen nie. Hierdie doop was ‘n bekeringsdoop, ‘n reinigings gebruik om te merk dat mens weer terugkeer na God toe. Die doop in ons kerk is altyd net eenmalig want dit gaan oor ons eenheid met Christus in sy dood en opstanding en nie soseer oor bekering nie.)

So, die vraag van die gedeelte vir my is dieselfde. Glo ek dat dit wat fout is met die wêreld nie daar buite is nie, maar hier binne. Glo ek dat ek vergewing en afwassing van my sondes nodig het vir my aandeel daarin dat die wêreld weggedraai het van God af? Dit is presies hierdie rede wat die mense in Johannes se tyd hulle laat doop het. Sou ek ook gegaan het?

En dan is hierdie nie een van daardie flimsy ja/nee antwoorde wat ek moet gee nie want die Fariseërs daag daar op met so ‘n houding en kry ‘n behoorlik ‘tongue lashing’ van Johannes. God soek nie skyn bekering nie. Hy soek nie mense wat dit vir sosiale, kulturele of siviele redes kom doen nie. Hy soek mense wat weet hulle is nie perfek nie, in fact Hy soek mense wat van hulle self af vlug (hulle kom almal uit die stad uit) en bely dat die oplossing nie in hulle is nie. Hy soek mense wat honger na dit wat reg is (Hy sê self so in Matt 5:6). Hy soek sulke mense want Hy het Homself juis vir hulle kom gee!

Dit is wat hierdie gedeelte sê. Hier is Jesus - die Een waarna julle soek. Hy verdien nie om gedoop te word nie. Hy is nie soos ons nie. Hy het geen sonde nie. Hy is die oplossing, Hy is waarna ek en jy ons lewe lank na soek. Die sleutel om deel te word van sy oplossing is dieselfde vir gelowiges en ongelowiges. Ek moet vandag weer opnuut kan sê: die oplossing lê nie in my nie. Maak nie saak hoe hard ek vandag vir reg en geregtigheid, gesondheid, onderwys, demokrasie of enige goeie saak gaan werk nie - die sonde sit in my vas soos ‘n kanker wat versprei na alles waaraan ek raak, behalwe as dit in Christus is. As ek nie eers glo dat Hy is wie Hy gesê het Hy is nie, dat Hy kom doen het wat Hy belowe het, dat Hy ‘n nuwe koninkryk kom begin het nie gaan my ‘efforts’ niks help nie.

Dit is met hierdie ingesteldheid waarmee ek vandag na elke sekonde van my dag wil kyk. Nie dat alles wat ek doen niks werd is nie, maar dat God Hom verheug in alles wat ek doen want ek is in sy Seun, en Hy ervheug Homself oor Hom(self).

Comments