Skip to main content

Nuwe koninkryk, nuwe krag (Matt 8)

Ek volg nou nie eintlik die geveg vir die volgende president van Amerika nie, maar van wat ek so langs die pad optel is beide Barack Obama en Hillary Clinton vurige sprekers. Ek kan myself voorstel dat hulle ‘n gehoor aan die brand kan praat met allerhande planne vir die toekoms van Amerika en hoe hulle nuwe regering die plek gaan verander. Stel jouself nou voor dat hulle na hulle speech, van die verhoog afklim en die goed wat deel gaan wees van hulle regering vir mense kan wys - amper ‘n soort voorsmakie van hoe dit alles eendag gaan lyk.

Op ‘n baie groter vlak is dit presies wat Jesus hier doen. Na die bergrede (Matt 5-7) klim hy van die verhoog af en gaan van dorp tot dorp en gee vir ons ‘n real life voorsmaak van hoe sy nuwe koninkryk gaan wees. In hoofstuk 8 het ons die genesing van ‘n melaatste man, die genesing van ‘n Romeinse offisier se slaaf, die genesing van Petrus se skoonma, Jesus wat die storm stil maak en die genesing van mense wat beset is deur ‘n bose gees. Hierdie is ‘n voorbeeld van Jesus se totale krag oor elke deel van die skepping - liggaamlik, in die natuur en geestelik. Nie net dit nie, sy nuwe begin oortref alle sosiale strukture - Hy ‘n Jood genees immers ‘n Romeinse offisier se slaaf (om nie te praat van sy vriend Petrus se skoonma nie!). In sy nuwe koninkryk is daar niks waaroor Hy nie beheer het nie.

Hier is wel twee goed wat my opgeval het wat dalk nodig is om oor te dink. Die een is die feit dat Jesus elke nou en dan vra dat die mense wat Hy genees het dit geheim moet hou en die tweede is eerder ‘n vraag: hoekom, as Jesus mense genees het het hierdie genesings nie aangehou selfs nadat Hy opgevaar het nie?

In die Evangelie van Markus is die geheimhouding van Jesus as die geneesheer baie duideliker. Hy vra keer op keer dat die mense nie daaroor sal praat nie. Die rede hiervoor is net dat mense wat genesing soek nie vir Jesus so gaan oorval dat Hy nie kan doen waarvoor Hy gekom het nie - naamlik om die oorsprong van alle siekte die finale dood te gee (Mark 1:45 maak dit duidelik).

Die tweede vraag is eintlik deel hiervan: hoekom het sy genesings nie aangehou nadat Jesus opgevaar het nie? Kyk na Matt 8:17. Die genesing van mense het primêr plaasgevind om Jesus se doel te kom bevestig: “Hy het gekom om ons lyding op Hom te neem en ons siektes te dra.” En dit is wat uiteindelik by die kruis gebeur het. Daar het Hy die straf van God op ons sonde finaal en verewig op Hom geneem. God se straf op sonde is immer die oorsprong van alles siekte en pyn en hartseer. Maar daar aan die kruis dra Hy al God se woede en oordeel vir alle sondes wat sy kinders gedoen het en nog gaan doen eenmaal en klaar. En elke keer as Hy iemand genees het was die ‘n voorsmakie van dit wat Hy binnekort aan die kruis sou doen.

Maar wat moet ons dan vandag met siekte en storms en bose geeste doen? Hoe moet gelowiges dit nou beskou? Ek is daarvan oortuig dat ons vandag, meer as ooit rede het om tot vir die genesing van siektes, die stil word van storms en die bevryding van bose geeste te bid. Dit wat Jesus probeer geheim hou het is verby - nou vra Hy dat ons dit oral moet verkondig dat Hy die Verlosser is. Sy mag oor ons gesondheid, die natuur en geeste is geheel en al omvattend. Daar is nie ‘n deel wat nie onder sy beheer is nie!

Vir my is daar dan ‘n dieper vraag: glo ek dit regtig? Glo ek werklik dat Jesus, toe Hy aan die kruis gesterf het eens en vir altyd God se straf vir my sonde op Hom geneem het sodat daar nou geen veroordeling vir my is nie? Glo ek regtig dat wanneer ek siekte beleef, storms ervaar en die aanval van die bose voel dit nie as oordeel op my sonde is nie, maar ‘n beproewing of ek werklik glo dat ek verlos is? Wat jy glo is gewoonlik duidelik uit wat jy doen: As jy hierdie goed beleef word jy kwaad of word jy sterk? Word jy kwaad vir jouself (omdat jy dink God straf jou vir jou sonde) of word jy kwaad vir God (want dit lyk dan of Hy onregverdig is - jy is immers oor die algemeen ‘n goeie mens?). Of, word jy sterk? Gebruik jy die siekte, storm of aanval as ‘n geleentheid om meer afhanklik van God te word? Is die woorde wat in jou hart aangaan terwyl jy die pyn beleef: Ek is reeds vergewe, daar is nou geen veroordeling vir my nie (Rom 8:1). Hierdie pyn wat ek beleef is nie ‘n straf vir my sonde nie, maar my hemelse pa wat besig is om my groot te maak. Hy is besig om my op te voed want Hy is vir my lief (Heb 12:11). Kom ek groei in Hom, kom ek wees meer afhanklik van Hom. Kom ek probeer regtig luister wat Hy vir my probeer sê.

Dan is daar nog ‘n tweede ding wat ons kan doen wat sal wys wat ons glo. Bid ek werklik terwyl hierdie goed met my gebeur dat God wat daaroor in beheer is dat sal laat verbygaan? Gaan soek ons Hom werklik wanneer ons siekte, storms en aanvalle ervaar om ons daarvan te beskerm, te bevry of gesond te maak? As ons dit dan doen, moet ons dit nie ook nou doen wanneer ons nie moeilikheid beleef nie? Dit is werklik die bewys of ons glo dat Hy is wie Hy gesê het Hy is.

Ek moet waai. Laat weet maar wat jy dink.

Comments