Ek het gister gesê dat al hierdie wonders wat Jesus doen voorsmakies was van die koninkryk wat Hy gebring het. Nadat ek Matteus 9 gelees het wil ek dit so bietjie verander: hierdie wondertekens wys nie net vir ons dat ‘n nuwe koninkryk met nuwe krag aangebreek het nie, maar dat Jesus die Koning van daardie nuwe koninkryk is. Verder probeer Matteus 9 vir ons wys hoe hierdie Koning is, hoe gaan Hy lei. Matteus gee vir ons ‘n paar leidrade om so aan Jesus te begin dink.
Sommer met die eerste verhaal in hierdie hoofstuk kom bewys Jesus dat Hy God en Koning van hierdie nuwe koninkryk is. Hy vergewe immers die verlamde man se sondes en lewer dan ‘n bewys dat dit werklik gedoen is deur die man te laat loop. Met ander woorde, Jesus kom claim om God self te wees (net Hy kan sondes vergewe) en bewys dan dat Hy is (die man staan op en loop).
In die volgende gedeelte roep Hy ‘n dissipel, iemand wat Hy in besonder gaan leer om sy volgeling te wees. Weereens is dit ‘n leidraad dat Jesus die Koning is wat sy koninkryk volmaak - maar kyk met wie Hy dit doen: ‘n tollenaar. Tollenaars was Jode wat belasting namens die Romeinse regering ingesamel het wat die Jode onderdruk het. Aangesien hulle nie aanvaar was deur die Jode of die Romeine nie, het hulle altwee groepe misbruik om ryk te word. Hulle het meer belasting van die Jode gevra as wat hulle moes en minder aan Rome oorbetaal as wat hulle gevra was… Jesus vergewe dus nie net sondes nie, Hy identifiseer ook geheel en al met sondaars soos Matteus.
In vers 14-17 gee Matteus vir ons die duidelikste bewys dat Jesus die Koning van hierdie koninkryk is. Die Fariseërs vra hoekom Jesus se volgelinge nie vas soos wat die Joodse gebruik is nie. Jesus se antwoord: “Kan die bruilofgaste treur solank die bruidegom nog by hulle is?” Dit was veronderstel om soos ‘n groot plakkaat te gewees het wat die Fariseërs en die ander Jode moes laat besef wie Jesus is! God beskryf Homself as sy volk se bruidegom of man in Jesaja 62:4; Jeremia 2:2; 3:20; Esegiël 16:8 en Hosea 2:19. Hy is hier om sy volk te lei, en daar is geen deel van die menslike leefwêreld waaroor Hy nie mag het nie! Nie siekte, storms, bose geeste, godsdienstige ekstremisme, blindheid, stomheid of sonde is buite se magsgebied nie. Hy het gekom om oor dit alles te regeer en dit alles nuut te maak.
Dit is amper asof die storie wat volg op Jesus se antwoord dat Hy die bruidegom en daarom God is, ‘n prentjie word van hoe ons op dit moet reaggeer. ‘n Joodse raadslid, iemand wat voorheen deel was van ‘n groep wat geglo het dat Jesus ‘n duiwel besete godslasteraar was kom kniel voor Jesus en bely sy geloof dat Jesus sy dooie dogter kan lewendmaak. Wow! Een van die leiers in die Joodse samelewing kom en kniel voor Jesus en bely dat Hy mag het oor lewe en oor dood! Wie Jesus is en wat Hy kom doen het, het duidelik hierdie Fariseër se hart bereik. Dit is presies die resultaat waarvoor Jesus kom soek het, en ‘n prentjie vir jou en my oor hoe ons op die Evangelie moet antwoord.
Wie is die leiers in jou lewe? Wie is die mense wat jy glo, instaat is daartoe om die wêreld/land so te regeer dat - as almal soos hy was - ons ‘n sukses daarvan sou kon maak? Dink bietjie daaroor. Wie se leierskapstyl, gesaghebbendheid en charisma is so inspirerend dat as hy of sy president of eerste minister sou word dit die wêreld se probleme sou oplos? As jy enigsins soos ek is sal jy ook nie nou aan ‘n naam kan dink nie. Politiek het my seker bietjie sinies gemaak, maar ek kan nie aan een iemand dink wat op die oomblik my persoonlike leier is na wie toe ek opkyk en aanhang nie…
Toe Jesus na die wêreld kyk met dieselfde vraag het sy hart gebreek! “Toe Hy die menigtes sien, het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie ‘n wagter het nie.” Matt 9:36. Hulle eie leiers het immers die beste persoon wat nog ooit tussen hulle was beskou as ‘n madman en ‘n lunatic. Hulle sien God nie raak wat hier tussen hulle staan en oor en oor bewyse lewer dat Hy die Een is waarvoor hulle gewag het nie. Hy maak siekes gesond, storms stil, dryf bose geeste uit, vergewe sondes en sê dat Hy die bruidegom is! Komaan… hoe unfit to lead moet mense wees om dit nie raak te sien nie!
Kan jy jouself vir een oomblik indink in die lot van die mense wat deur hierdie Fariseërs gelei was? Ek dink die naaste waaraan ons kan kom is om aan Mugabe en die lot van die hele Zimbabwe te dink. Hier is ‘n leier wat eiehandig ‘n hele land se rug gebreek het - net deur sy eie magsbeheptheid en swak ekonomiese besluite. Ons verstaan nie die mag wat mense wat bo-oor ons aangestel is het nie… totdat hulle droogmaak soos Mugabe. Jesus kon dit sien en dit het sy hart gebreek. Hy sien dit vandag… maar prys God dat dit nie meer sy hart breek nie want Hy het ‘n plan gemaak. Hy kom terug om geheel en al die lysels oor te neem in die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Hy begin het.
Gaan lees gerus Esegiël 34 as jy kans kry. Dit is ‘n profesie dat Iemand gaan kom om sy volk te lei. Ek haal ‘n kort deel daarvan aan:
11 ” ‘For this is what the Sovereign LORD says: I myself will search for my sheep and look after them. 12 As a shepherd looks after his scattered flock when he is with them, so will I look after my sheep. I will rescue them from all the places where they were scattered on a day of clouds and darkness. 13 I will bring them out from the nations and gather them from the countries, and I will bring them into their own land. I will pasture them on the mountains of Israel, in the ravines and in all the settlements in the land. 14 I will tend them in a good pasture, and the mountain heights of Israel will be their grazing land. There they will lie down in good grazing land, and there they will feed in a rich pasture on the mountains of Israel.
En net as jy gewonder het wie hierdie Herder is, Jesus maak geen geheim daarvan nie. In Johannes 10:11 sê Hy dit: “Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.”
Miskien is die grootste fout wat ons kan maak om te sê dat daar nie ‘n goeie leier is nie en dat ons daarom onsself van nou af gaan lei… Hier is een wat bereid is om meer vir ons te doen as wat ons vir onsself sal doen en ons wil ons nie deur Hom laat lei nie! Ek verstaan myself nie altyd nie! Hier is die Een wat my gemaak het en ek wil myself eerder lei as om deur Hom gelei te word! Hy sien ons nood en behoefte raak en sit nie eenkant en wonder daaroor nie. Hy het gekom om dit te verander. Hy het kom sterf om sy plek op die troon van ons harte in te neem sodat ons nooit weer mislei, onbeskermd of ondervoed sal wees nie. Meer - Hy sit op die ewige troon van die hemel om ons nooit weer under-amazed te sien nie. Nooit weer sal ons monde nie oophang in verwondering nie, nooit weer sal ons nie so totaal en al verstom wees oor Iemand se grootheid en goedheid en liefde dat ons nie in spontane lof en eer aan Hom gaan uitbars nie! Nooit weer gaan die lewe net oorlewing wees nie - maar ons kan uitsien na ‘n koninkryk waar ons werklik gaan leef.
Comments