Toe ek hiermee begin het, het ek geweet dat dit gaan gebeur. Ek gaan gereeld op 'n hoofstuk afkom waaroor ek veel meer moet sê en dink as wat mens in 'n uur kan doen. Hoofstuk 12 is een van daai. As jy dit gelees het sal jy sien dat daar drie groot issues is wat mens nie kan ignoreër nie. Jesus se uitsprake oor die Sabbat, sonde teen die Heilige Gees en die teken van Jona. Nou voordat ek my daarin begeef, kom ek probeer eers die hele hoofstuk, en sy plek in die boek verstaan.
Ons weet sonder twyfel nou al dat Matteus tot dusver vir ons wys dat die Koning van 'n nuwe, beter, kragtiger koninkryk hier is. So wat ons ookal sê van hoofstuk 12, dit moet êrens aansluit by die koninkryk. As ek weer deur dit lees sien ek nogal 'n sterk lyn wat hieroor gaan - al is dit bietjie met 'n ompad. Die gedeelte begin met Jesus en sy dissipels wat koring eet op die sabbat (wat dan vergelyk word met Dawid en sy manne wat in die tempel geeet het op die Sabbat) en eindig met Jesus wat sy dissipels sy broers en susters noem (in vergelyking met sy bloed familie wat by die deur na Hom roep). Dit wil dus vir my lyk of hierdie hoofstuk iets oor die mense wat sy volgelinge is wil sê, en wat dit vir hulle beteken dat hulle saam met Hom is (of Hy saam met hulle is...).
Vers 1-7
So, wat beteken die Sabbat dan vir die mense wat saam met Jesus is, sy volgelinge. Dit is veronderstel om vir ons die teken te wees van die ewige rus (dit is wat die woord Sabbat beteken). En soos ek dit verstaan was die Sabbatdag die teken vir die volk dat hulle moet vertrou dat hulle eendag in die Vader se rus sal kan ingaan (Heb 4:1). Soos die Sabbatdag was die tempel ook so 'n teken (Matt 12:6), net hierdie keer was dit 'n teken oor 'hoe' hulle in die rus sou ingaan - iemand moet vir hulle geoffer word, in hulle plek betaal vir hulle sondes (offerdiens was altyd in die tempel). Jesus kan Homself die 'Here oor die Sabbat' noem want Hy is dit waarop die albei tekens gedui het . Hy is die een wat 'sit aan die regterhand van God, die Almagtige Vader' (Hy is dus alreeds in die beloofde rus) en die Een wat die weg vir ons oopgemaak het (Hy was die Lam wat vir ons geslag is) sodat ons 'met vrymoedigheid na die genadetroon' (Heb 4:16) toe kan gaan. (Lees gerus die hele Heb 4 as jy meer oor die Sabbat wil weet, veral die oproep: "Laat ons ons dan beywer om in sy rus in te gaan..."). Vir die wat dus in Jesus is, of saam met Hom is is daar niks wat keer dat hulle in die ewige rus kan ingaan nie.
Maar soos die Fariseërs wetsonderhouding as 'n teken voorhou om te weet of iemand deel is van die volk, so hou Jesus die hart van die wet voor as teken wat Hy gebruik om te wys wie deel is van sy koninkryk. Kom ek probeer dit beter sê: die fariseërs gebruik die oppervlakkige betekenis van die wet om te bepaal wie in en wie uit is. Jesus gebruik die dieper, ware betekenis van die wet om te wys dat net Een in kan wees - en dit is Hy. Kyk na sy woorde in vers 7. Dit is die 2de keer dat Jesus hierdie woorde sê. "Ek verwag barmhartigheid, nie offers nie." Soos die Fariseërs is ek en jy ook geneig om agter die wet weg te kruip, eerder as om die hart van die wet te vervul. Dink maar aan jou eie reaksie wanneer jy iemand in nood sien. As ons dit moet vergelyk met die Fariseërs se situasie kan ons sê dat jy dalk iemand in nood sien, op 'n Sondag terwyl jy oppad kerk toe is. Die Fariseër (en ek en jy) sal dan skielik die wet gebruik as 'n wegkruip plek om nie te doen wat God werklik vra nie - om nie genade aan die ou wat sukkel te bewys nie. Ons kan dalk sê: "Ek mag nie werk op die Sabbatdag nie..." en aanstap. (Simpel voorbeeld, maar dink bietjie waar jy die wet gebruik om nie te doen wat God regtig vra nie...). Of wag, ek het 'n goeie een gelees: Hoeveel keer gaan ons nie saam na die kuierplek toe na werk nie, nie omdat ons iets teen drank of pubs of clubs het nie, maar net omdat ons nie lus is om nog tyd met kollegas te spandeer nie (omdat ons dalk dink ons is beter as hulle?) Dalk gebruik ons die verskoning in ons koppe dat 'Christene nie in sulke plekke uithang nie...' en bly dan weg, maar eintlik gebruik ons net die wet om ons eie onsekerhede weg te steek?
Vers 7-21
Die wat saam met Jesus is moet glo dat net Hy die eise van die Sabbat kon vervul, en daarom in Hom elkedag gebruik om soos Hy te leef! Hy is reeds in die ewige Sabbat en Hy het dit reeds in ons plek vervul. Ek en jy is saam met Hom reeds seker dat ons daar 'n plek het, daarom moet ons nou elke dag leef as 'n geleentheid om die hart van die wet na te streef, naamlik liefde vir ons naaste en vir Hom. Matteus het Jes 42 aangehaal oor Jesus en gesê "'n Riet wat geknak is, sal Hy nie afbreek nie, en 'n lamppit wat rook , nie uitdoof nie" (Matt 12:20). En dit is hoe Jesus se volgelinge nou ook onderskei word - ons word ook geroep om genade en liefde te bewys aan die wat dit die minste verdien en geheel en al weerloos is, of dit nou Sondag, Maandag of Saterdag is.
Vers 22-33
Ek het tot nou toe hierdie ding oor die 'teken' gesê want dit is eintlik die hart van die gesprek tussen Jesus en die Fariseërs. Hulle soek 'n teken dat Hy die Seun van Dawid is, en Hy sê dat Hy nie by hulle die teken sien dat hulle kinders van God is nie. Jesus gebruik regtig 'n uitstekende argument om hulle hele aanklag teen Hom te ontmasker. Hulle sê Hy doen sy wonderwerke deur die mag van die duiwel. Dit is net daar wat hulle 'n crucial fout maak. In die Joodse leefwêreld was daar net twee opsies oor - of Hy doen dit deur die krag van die duiwel, of deur die krag van God. Met ander woorde, as Hy kan bewys dat Hy doen wat Hy doen nie deur die krag van die duiwel doen nie, dan moet hulle aanvaar dat Hy dit net deur die krag van God doen! En dit is presies wat Jesus dan doen - Hy sê bloot net dat dit onmoontlik is dat Hy bose geeste in die naam van die duiwel uitdryf, want dan beteken dit die ryk van die bose is op homself gekeer (as jy in die bose ryk was sou jy mos eerder die bose ryk wou bevorder as verder afbreek...). Sodra Jesus daardie aanklag van die Fariseërs ontmasker het gaan Hy voort om te sê wat dit dan beteken as Hy dit nie deur die krag van die bose doen nie, maar deur die Heilige Gees: "Aangesien Ek deur die Gees van God die bose geeste uitdryf, het die koninkryk van God inderdaad tot by julle gekom." Matt 12:28. So eerder as wat dit 'n oorwinning vir die Fariseërs is, vee Jesus die vloer met hulle argument en bevorder sy eie tot op die volgende vlak: "Julle moet nou aanvaar dat die Koninkryk van God nou hier is!"
Vers 38-42
Die Fariseërs vra Jesus nou sommer reguit dat Hy vir hulle 'n teken moet gee. (Die Jode het altyd 'n teken gesoek en die Grieke het altyd een of ander wysheid of nuwe teorie by Jesus gesoek). Hy weier en sê dat hulle reeds die teken het wat hulle nodig het - die teken van Jona. Wat is dit? Dit is die Evangelie! Soos Jona drie dae in die vis was, so gaan Jesus ook drie dae dood wees maar dan opstaan om in die Vader se rus in te gaan. Soos die mense van Nineve na Jona geluister het gered gaan word, so sal die wat na Jesus luister ook gered word. (Weereens, die wat saam met Jesus is - in Hom is gaan die ewige rus binne).
Nou kan ek dalk vinnig oor die sonde teen die Heilige Gees praat. Soos ek dit verstaan gaan dit juis daaroor dat wanneer die Heilige Gees deur die prediking van iemand (was dit nou Jona in die Ou Testament of Phillip in die Nuwe Testament) besig is om jou op 'n bonatuurlike wyse van jou sonde te oortuig, en jou van God se liefdevolle beskikking in Jesus Christus te oortuig en jy skielik jou hart daarteen verhard - is dit sonde teen die Heilige Gees. Van nature is dit ons almal se reaksie op die Evangelie, maar deur God se genade het Hy die wat Hy uitverkies se harte sag gehou om sodoende van hulle sonde en Jesus se betaling daarvan oortuig te word. Deur die Heilige Gees wat in gelowiges se harte woon hou hierdie proses nooit op nie. As dit nie so was nie - dat die Heilige Gees hierdie werk in gelowiges kom doen het nie - sou ons net weer terug gekeer het na ons ou self toe die oomblik wat ons die Evangelie klaar gehoor het (die bose gees kom dan terug en bring sewe maatjies saam).
So - die kort en die lank van hierdie gedeelte is dit: saam met Jesus, in Jesus, Jesus in my is die enigste manier waarop ek die koninkryk van ewige rus kan ingaan.
Comments