Skip to main content

Die Koning is werklik (Matt 15)

Vir die van julle wat by gisteraand se preek was sal dit nogal treffend wees dat die gedeelte waaroor ek vandag blog juis Matt 15 is. Soos julle seker kan sien het ek lanklaas hierby uitgekom… ‘n simptoom van my hart wat in die afgelope paar maande al hoe kouer en harder geword het. Nou kom God en sê in Lukas 15:8 presies dit wat my weer na Hom toe terug gebring het: “Hierdie volk eer My met hulle mond, maar hulle hart is ver van My af….” Aaargghhhh. Dit is presies wat in my moed geleef het vir die afgelope paar maande!

Maar dank God dat Hy ‘n Inbreker is. Dat Hy nie wag om genooi te word nie, maar op sy eie inisiatief en uit genade en liefde sommer net opnuut op ons inbreek maak. Vir my het Hy die woorde van Openbaring 7, 21 en 22 gebruik om vir my opnuut weer te wys wie Hy is! En kyk ons deur daardie gedeeltes (spesifiek Open 7:14-17 en 22:2) na Matt 15 sien ons die Opgestane Jesus voordat Hy opgestaan het. Jy kan nie anders as om die Koning van Openbaring 21 en 22 te sien in Jesus van Matteus 15 nie.

Matt 15:29-31 lees ons hoe Jesus mense genees, iets wat ons in Open 7,21 en 22 sien as kenmerke van die Hemelse Koninkryk. Nog meer spesifiek – die gevolg van die water wat uit die troon van die lam uitvloei is dat die nasies genesing kry!
In Matt 15:32-39 sien ons dat Jesus die menigte kos gee, netsoos Openbaring 7 en 21 beskryf – niemand sal meer honger kry nie.
Dan die clincher – ‘n nie Joodse vrou smeek Jesus vir die genesing van haar dogter. Amper sarkasties sê Jesus “dat Hy net vir die verlore skape van Israel gestuur is”, maar dan maak Hy haar dogter gesond. En dan, in die hemel sien ons dat die nasies, nie net Israel nie – genesing kom kry.
Die punt is duidelik: die Jesus van Matteus is die Koning van Openbaring.

Lees die gedeelte nou weer ‘n keer deur daardie bril. Ek belowe jou dat die Fariseërs se strikvraag jou net so naar sal maak soos dit my gemaak het. Dis nou soos die outjie op die tennisbaan wat beterweterig vir Andre Agassi wil kom leer hoe om sy balle te slaan. Wat weet hulle van reg en verkeerd! Hier is Jesus, die Seun van God, die Een wat van alle ewigheid af by die Vader was, wat van altyd af in volmaakte heerlikheid geleef het – wat nie net weet van reg en verkeerd nie, maar dit self is! Die skepping is die oorloop van God se eie reg en liefde en genade! Wat weet die Fariseërs.

Maar tog praat hulle. Nie net praat hulle nie – hulle reken hulle kan vir Jesus ‘n ding of twee leer oor wat reg is. “Hulle eer my met die mond, maar hulle hart is ver van my!” Komaan – kom ons wees eerlik met onsself. Dit is ons! As sonde voor ons lê, as ons die geleentheid het om iets te doen wat ons weet teen God se wil is – dan begin ons ervaar hoe ons vir Jesus wil leer wat reg is. Uiteindelik kies baie van ons om sonde te volg en teen God in te gaan want “wat weet Jesus?”…

As ons harte maar nader aan Hom was. As ons ons begeertes en drome en verlangens maar by Hom gebêre het, eerder as in hierdie wêreld… dan sou ons deur ons sonde kon sien. Dan sou ons kon sien hoe ons nie met sonde kan speel nie. Ons sou sien hoe bitter gevaarlik sonde is, nie in wat dit kan doen nie maar in wat God aan ons kan doen agv van ons sonde.

Die hart van dit wat Jesus hier leer, en wat die Fariseërs mooi illustreer – is dat dit wat jy sê verewig staan. En uiteindelik gaan ons geweeg word op ons dade, woorde en gedagtes. Elkeen wat sonder Jesus is gaan met hulle eie dade voor God moet staan, gelowiges gaan met Jesus se dade voor die Vader verskyn.

Die uiteinde van eie dade voor God is dit wat Jesus van die Fariseërs sê: hulle val in die sloot soos ‘n blinde wat nie kan sien waar hy loop nie.

En dit is hier waar die lem in my hart ingesny het: Hoe lei ek? Is ek besig om soos ‘n blinde ‘n klomp mense in ‘n afgrond in te lei? Is ek besig om met mond God te eer maar my hart is ver van Hom af? Ek dink so. En daarvoor is ek bitter jammer. Ek is jammer dat ek my roeping soos ‘n werk begin doen het. Ek is jammer dat ek my eerste liefde verlaat het (Openb 2)… vir kleiner liefdes…

Hoe maklik is dit nie vir ons om die Koning mis te kyk nie? Hoe maklik is dit nie vir ons om onsself Koning te maak en Jesus op ‘n veilige afstand te hou nie?

Ag Here, wie sal ons van hierdie doodsbestaan kan red? Aan U die dank. U doen dit deur Jesus Christus ons Here. (Rom 7:24). Gee dat ons opnuut weer onsself voor U sal verneder, op ons knieë sal gaan en ons klere was in U bloed (Opnb 2). Gee dat ons sal sien wat dit U gekos het om ons te verlos van die einste sonde waarheen ons keer op keer terugdraai – die sonde om self God in ons lewens te wees! Om U te probeer leer wat reg en verkeerd is… ons is so skaam daaroor Here. Vergewe ons in die Naam van die Lam. Amen

Comments